Tuesday, May 26, 2009

Die heel lekkerste ding op aarde.....

Is om na n lang dag n lekker warm bad te vat, jou skoon pajamas aan te trek en in n skoon bed in te glip vir n wel verdiende nagrus...


Hoekom is dit nie so lekker vir almal wat ek ken nie? Nee jong, my man sal sorg dat hy eerste in die bed spring en sommer 1kilo sand in die bed in trap, dan vra hy natuurlik hoekom sy vrou liefie verkies om op die bank in die sitkamer te doeks....


Ek weet ook nou hoekom hy so is, sy ma het hom mooi geleer, laat alles maar verval om jou my kind, solank jy net gelukkig is...

My ma het my geleer, my kind al is ons arm, seep en water kos amper niks!

So swets en vloek ek daagliks deur die vuil skottelgoed en vuil beddegoed se skoonmaak deur en dink, ja as 3 mense vuilmaak en net 1 skoonmaak is dit niks lekker nie!! Ek vee gou in die oogend al die oppervlakke af, sit die skottelgoed weg wat ek oornag op die afdroog rakkie gelos het en maak gou die tuimeldroer leeg, pak gou als weg en hol want eks alweer laaaaat!

So vind ek uit dat daar n middel weg vir als is, die huis is nou nie 100% nie, maar ons is gelukkig....

Tuesday, May 5, 2009

Klap en byt en trek hare, maar moet net nie uit my hart padgee nie!

Vir Rentia....

Ja, so eendag was daar 2 susters, die oudste een was baie girly en die jonger een was n tomboy, maar jong kon die twee nou stoei? En stry? Van klere tot kamer tot hangkas, hulle het oor alles baklei, daar was tot n denkbeeldige lyn reg deur die kamer wat die twee gedeel het, ja jong, hulle het oor niks saamgestem nie en elkeen het sy eie plekkie gesoek! Die ouer een het tot haar suster gemaak haar klere uit trek as die jonger een dit net waag om iets uit ousus se kas te 'leen'. Ousus het ook eenkeer n koekie badseep teen die kop gekry toe sy in die badkamer wou gaan loer om te sien hoe haar jonger suster bad!

Hulle was albei kinders en het intussen groot geword en kinders van hul eie gehad en hulle het alby besef dat al baklei jy hoe met jou suster, sy sal jou nooit los of uit jou hart padgee nie.....

Die begin van n droom.......hoe om n nuwe kombuiskas te kry!

Begin jou huis regpak!! Glo my jy vind daai kous wat jy 3 weke gelede gesoek het, jy was oortuig dat daar n hengse groot kouse vreter iewers in jou huis rondsit en hy moet al vreeslik vet wees van al die kouse!

Jy vind ook die insperasie om al julle gemors in die middel van die gesins kamer uit te gooi met n sak vir 'keepers' en die asblik, glo my baie min het in die 'keepers' sak beland!

Jy vind ook daai skroefies wat jy gekoop het vir die kas in die kombuis wat jy nou onthou jou man jou al 18 maande gelede belowe het hy gaan bou! En dis asof daar n nuwe vuur in jou brand! Hy gaan NOU daai kas bou! Hy mmm en aaa eers n bietjie, maar dis mos langnaweek en hy HET mos nou belowe! Jy stuur hom rond, hy gaan kry die hout wat hy gekoop het en by sy ma se huis wegesteek het, net sodat jy nie daai belofte moet onthou as jy heeldag in die planke vas staar nie!

Hy meet en skryf en meet weer n bietjie, jy hou die kind weg uit die kombuis sodat pappa asseblief tog net nie nou spoed moet verloor nie! Jy ry rond en soek na mandjies, want as hy nou nog moet laaie ook inbou gaan dit nog 18 maande vat!

Hy steun en kreun en jy dra maar n glasie koeldrank aan, jy wil graag vloek en skree en raad gee want jy kan sien dat wat hy nou doen gaan NIE werk nie, maar wat weet n vrou nou? Hy draai sy kop n paar keer skeef, tree n paar tree agter uit en bekyk sy hande werk. Jy kyk, maar kyk weer, want dit wat jy sien lyk soos iets uit n kombuiskas advertensie en jy sit terug en dink, my man is darm baie handig om te he, hy het dalk foute, maar hy is darm baie handig...